08/12/2025
’n Dankbare hart, ’n stukkende fronx en ’n held met die naam Radie Loubser
Ek sal nooit die dag vergeet toe ek aan die einde van Maart 2025 my splinternuwe Suzuki Fronx by Suzuki Oudtshoorn gaan haal het nie. Die opgewondenheid, die trots. Dit was alles daar. Ek het jare hard gewerk vir elke ding wat ek besit, en my Fronx was nie net ’n kar nie - dit was ’n mylpaal. ’n Goue medalje vir vasbyt, laat ure, en side gigs.
Ek het my eerste kar, ’n Swift, self gefinansier. En toe kom die Fronx. Die tweede Suzuki in my naam. Ek d**k mens kan beslis sê en sien ek is 'n Suzuki-liefhebber. Vir goeie redes ook: bekostigbaar, betroubaar, en perfek vir die gewone hardwerkende mens.
Motors is deel van my bloed. Dis hoe my pa en ek oor die jare gebond het. Ek onthou tot vandag toe hoe ek en hy elke naweek nuwe kare gaan test-drive het & en selfs nou stuur ons nog videos, fotos en spesifikasies vir mekaar aan oor al die nuwe motors. Dit is 'n unieke taal tussen ons.
Maar dan gebeur daar iets wat ek nooit sou verwag nie.
25 November 2025. ’n Dinsdag soos enige ander. Ek het iemand gehelp met ’n klein daad van vriendelikheid, klim terug in my Fronx, en skielik wil die rat nie meer ingaan nie. Heeltemal onverwags. Skaars 8 maande oud. Net 14 443 km op die klok.
Ek onthou hoe ek geskok vir myself sê: “Dit moet ’n droom wees.” Maar dit was nie.
Die kar moes gesleep word, iets wat ek nooit verwag het om met ’n nuwe voertuig te ervaar nie. Twee dae later kom die diagnose: pressure-plate klaar. Gewoonlik gemerk as “wear-and-tear” part en dus nie onder waarborg nie. En dit was toe my navorsing, vrae en vasbyt begin.
Maar hier begin die hart van hierdie storie:
Suzuki Oudtshoorn. En spesifiek: Radie.
Terwyl ek paniekerig probeer verstaan, het Radie (die man wat my van dag een af gehelp het) ingespring op maniere wat ek nooit sou kon voorsien nie. Hy was 400 km weg, maar dit het gelyk en gevoel asof hy reg langs my staan.
Hy het self begin opvolg. Nie net een of twee oproepe nie. Dit was aanhoudende kommunikasie, deurlopende navrae, elke dag. Hy het met Suzuki Kaapstad, Suzuki SA, en die dienssentrum gewerk om antwoorde te kry, my saak te verduidelik, my kant te verteenwoordig, en seker te maak ek word nie oor die hoof gesien nie.
Ek het al by verskeie plekke gekoop en diens gekry, maar nog nooit het ek so ’n vlak van betrokkenheid, menslikheid en opregte diens beleef nie. Radie het gewys wat regte kliëntediens is. Hy het gewys wat dit beteken om trots te wees op jou werk, jou kliënte, en jou handelsnaam.
Dit is omdat ek by Suzuki Oudtshoorn gekoop het, omdat ek Radie gehad het, dat ek deur hierdie hele situasie gevoel het ek word gesien, gehoor en gehelp.
En so deel ek my lesse, maar ook my aanbeveling:
1. Nuwe motors breek ook. Dis die realiteit.
Maar jou handelaar bepaal hoe swaar die ervaring vir jou gaan wees.
2. Moenie ooit toelaat dat iemand jou onderskat omdat jy ’n vrou is nie.
Ek het my man gestaan, en Radie het my ondersteun.
3. Waardeer jou ouers.
Myne het agter die skerms gewerk sonder dat ek eers geweet het.
4. En heel belangrik: KEN JOU HANDELAAR.
Ek kan dit van die dakke af skree:
As jy ’n Suzuki wil koop, ry na Suzuki Oudtshoorn.
As jy opregte diens, empatie en ondersteuning wil hê, soek vir Radie.
Daar is ’n verskil tussen iemand wat sy werk doen, en iemand wat jou soos familie hanteer. Radie was en is die laasgenoemde. En vir dit sal ek altyd dankbaar wees.